Die laaste boek wat ek gelees het het 'n besondere indruk op my gemaak. Met 'n indringende eerlikheid skryf sy oor haar grootwordjare by Kakamas langs die Grootrivier. Sy kry dit reg om 'n stuk sosiale geskiedenis lewendig en veral eg op te roep. Haar huismense, al die rare karakters van die omgewing, die swaarkry, die stryd om oorlewing, ook die humor en geluk, die groei en ontwikkeling van die arbeidskolonie naby Kakamas laat sy met 'n vaardige hand voor die leser lewe. In die genre wat 'n mens die herinneringskuns sou kon noem, is dit een van die allerbeste boeke wat ek ken. Hoewel Met 'n eie siekspens tematies en struktureel ver verwyderd is van haar jongste roman, Vuur op die horison, lyk dit vir my na 'n belangrike voorbereiding vir die skryf daarvan. Wat Met 'n eie siekspens 'n merkwaardige stuk skryfwerk maak, is ook hier aanwesig, naamlik 'n volhardende sin vir die historiese, die sosiale omstandighede, die gebruike en gewoontes van 'n verbygegane tydperk, en veral die knap uitbeelding van 'n hele galery karakters. Vuur op die horison is 'n historiese roman wat hoofsaaklik afspeel tussen 1889 tot net na die Anglo-Boereoorlog. Die sukses van die talle verhaallyne wat deur hierdie allemintige roman van 730 bladsye loop, word in 'n hoë mate gewaarborg deur die geloofwaardige herskepping van 'n tydperk wat ver verwyderd is van die hedendaagse leser. Dit is oorweldigend duidelik dat Van Rooyen nie net van 'n vrugbare verbeelding gebruik gemaak het in die skryf van hierdie boek nie: in die teks ingebed lê daar 'n stewige stuk navorsing. Deurgaans verras sy die leser met haar deeglike kennis van die sosiale en politieke omstandighede van die negentiende-eeu. Die leser kom gou onder die indruk dat hier 'n skerpsinnige skrywer aan die woord is wat jy ten volle kan vertrou. En dan is leesplesier verseker. Die fokus van enige roman wat sy sout werd is, lê egter op die karakters en hulle lotgevalle. "In die innerlike mens is daar net een geskiedenis wat belangrik is, en dis sy eie", staan dit tereg op die laaste bladsy. En dit doen Van Rooyen met groot vaardigheid. Daar is talle kleiner verhale wat deur die roman sirkuleer en wat tog verbind is aan 'n groter geheel. 'n Hele aantal sentrale karakters, hoofsaaklik die Viljoens, bevind hulle in 1889 op die plaas Grootverlangen, in die Magaliesberge noord van Pretoria. Hierdie karakters en hul bure se wel en wee word deur die verloop van die roman verhaal: deur die rustige negentigerjare, die turbulensie van die oorlog en daarna; party dood, ander verbitterd, een paar beland selfs in Argentinië. Niemand kom onaangeraak deur die oorlog nie.
'n Boeiende pendant vir die hoofsaaklike Boerekarakters is die Dalmains van die landgoed Banthorp in Engeland. Die verteller fokus veral op die ouer Henry en sy kleinseun Michael wat ook later in die driejarige oorlog kom veg, uiteindelik met een van die Viljoens, Gerrie, trou en Suid-Afrika sy nuwe vaderland maak. Net so goed soos die verteller die Afrikaanse karakters uitbeeld, so skerpsinnig word die Engelse uitgebeeld. Die verteller het 'n panoramiese blik op die karakters. Afwisselend verskuif die fokus van een karakter na die ander. Hierdie wisselende perspektief sorg nie alleen vir afwisseling nie, maar hou ook die spanningslyn in die verskillende verhaallyne vol. Van Rooyen se visie op haar figure is nie romantiserend of soetlik nie. En haar karakters is ook nie super helde en heldinne nie. Daar is denkers, daadmense, pasifiste, luiaards, lafaards, moedeloses, treurendes, verbitterdes, ensovoorts. Omdat die verteller se voorstelling van die karakters oorwegend genuanseerd en empaties is, wen die verhaal aan geloofwaardigheid. Die groot prestasie van die roman lê in die boeiend uiteenlopende karakters, die oortuigende stories, maar veral die grootse blik wat gegee word op seker die ingrypendste gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Baie dinge bly 'n mens by ná die lees van die roman. Drë‰ humor: "'En hoe gaan dit nou met jou man? Ek het gehoor hy is dood aan die koors'". "'Nee, goed, Oom,' antwoord Gertruida met teenwoordigheid van gees, 'ek het hom van middag by die kerkhof besoek'" (p. 205); gruwelikheid: "Die walle lyke voor Magersfontein is noodgedwonge in 'n massagraf begrawe. Te vlak, is gevind toe liggame begin opswel en bo die grond uitsteek. 'n Groep troepe is gestuur, wat volgens bewering eers dronk gemaak is om die reuk te kan verduur. Te dronk, is gevind toe hulle die lyke in 'n makabere dodedans dieper in die grond probeer trap het"; wysheid: "'Ek dink,' sê Frans Viljoen, een van die hooffigure en bittereinder, aan 'n joernalis, 'jy moet net sê: Daar was oorlog. Daar was vrede. Want ek sê jou, in Afrika moet ons maar almal goeie vergeters wees'". Vuur op die horison is 'n boek wat ek nie kon neersit nie. Engela van Rooyen het die gawe om 'n leser vokome meer te voer. Sy verdien 'n groot getal lesers en ek is seker sy gaan dit kry ook.
yourquestion